Nadat hy haar nege maande gelede ontmoet het, het hy verlief op haar geraak en ‘n “obsessie” met haar ontwikkel.
Só vertel Josza Slabbert (Apie), die man wat Stefanie Pieterse op 30 September “ontvoer” het.
Volgens Slabbert ry sy gewete hom sedert die ontvoering en wil hy graag sy kant van die storie stel.
“Ek het Stefanie nege maande gelede deur haar ouers, wat vir my blyplek gegee het, ontmoet. Ek was van dag een af verlief op haar.”
Volgens Slabbert het hy en Neels, haar man, glo vasgesit, waarna hy uitgetrek het. Hy bly vir die afgelope vyf maande op straat.
Slabbert het Stefanie glo die dag van haar verdwying in die begraafplaas dopgehou.
“Ek het haar speel-speel met ‘n mes gedreig sodat ek in die motor kon klim en sy nie skree nie. Ek sou haar nooit seergemaak het nie.
“Stefanie het so ‘n mooi hart en sy het my altyd beter laat voel. Sy het altyd uit haar pad gegaan, nie net vir my nie, maar vir ander mense ook. Sy’s beeldskoon van binne en buite.”
Slabbert het met Stefanie na die dam by Onderstepoort gery waar hulle die Vrydagaand spandeer het.
Hulle het die res van die naweek by ‘n lodge in Bronkhorspruit in die motor spandeer waar hy geweet het niemand hulle sou kry nie.
Volgens Slabbert was Stefanie die heeltyd bekommerd oor haar kinders.
“Stefanie het siek word van verlange. Ek was selfsugtig en het gedink ek kan haar maak lief wees vir my, maar mens kan nie iemand maak lief wees vir jou nie.
“Ek is ‘n straatmens wat maar ook net liefde, aanvaarding en geluk soek, maar ek het besef ek sal dit nooit by haar kan kry nie. Ek weet ook dat ek niks vir haar kan bied nie. Ek wou haar nooit skade aandoen nie. Ek vra net vergifnis.”
Slabbert en Stefanie het ook in dié tyd glo Pretoria-Noord toe gery waar hulle gaan dobbel het, “omdat dobbel my laat ontspan,” sê Slabbert.
Slabbert is nie seker hoe Neels hom en Stefanie opgespoor het nie, maar hy het volgens hom “net daar opgedaag” terwyl hulle besig was om te dobbel.
FiND iT het Neels en Stefanie vir kommentaar genader, maar hulle het nie gereageer nie. Neels het vroeër aan FiND iT gesê die polisie wou nie ‘n saak van ontvoering aanvaar nie.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



