Die vyf familielede wat op Sondagaand 2 Oktober in ‘n motorongeluk op die N2 naby Glentana dood is, was op pad na hulle vakansiebestemming op Knysna. Die familie is van Malmesbury.
Die oorledenes is Mandy Steward, haar man Jack, hul sesjarige dogtertjie en Jack se ouers wat beide 78 jaar oud was. Die sesde insittende van die Ford EcoSport, die Stewards se 12-jarige seun, is die enigste oorlewende en word sover bekend in ‘n hospitaal op George behandel.
Die aard van sy beserings is nog nie bekend nie.
Die familie was om ongeveer 22:00 in die rigting van Knysna op pad toe die ongeluk gebeur het.
Die polisie se kommunikasiebeampte, sers. Chris Spies, sê twee voertuie, ‘n Ford EcoSport en ‘n Ford Ranger het reg van voor op die N2 naby Glentana gebots.
Die Stewards se voertuig was in die rigting van George en die Ford Ranger het in die rigting van Groot Brak gery.
Spies sê die bestuurder van die Ford Ranger is ernstig beseer en word in ‘n hospitaal op George behandel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



