Kyk: Gemeenskapslede van Sebokeng wil hulself help ná mislukte transitorooftog

Deel hierdie storie / Share this story

Lt.kol. Netshiunda, woordvoerder van die Nasionale Polisiekommissaris, waarsku gemeenskapslede teen diefstal op ‘n misdaadtoneel. Hy sê daar word gesoek na ‘n onbekende aantal verdagtes wat Maandagmiddag probeer het om ‘n transitorooftog te pleeg op die Golden Highway South naby Sebokeng Square.

Na bewering was die bestuurder en sy bemanning in die kontantwa onderweg toe verdagtes in ‘n wit Mercedes-Benz op hulle geskiet het. Die bestuurder van die geldwa het beheer oor die voertuig verloor en het in ‘n sloot tot stilstand gekom.

Blitspatrollielede wat aan diens was en naby genoeg toe die voorval gebeur het, het gaan hulp verleen. Gemeenskapslede wat hulself aan die kontant wou help, het die polisievoertuig beskadig.

“Die gemeenskap moenie op misdaadtonele peuter en sodoende bewysstukke vernietig nie. Om geld te vat op so ‘n toneel is ‘n misdaad en daar sal deur die wet dienooreenkomstig teen sulke oortreders opgetree word,” waarsku Netshiunda.

Niemand kon daarin slaag om die kontant te steel nie en niemand is tydens die voorval beseer nie.

Enige persoon met inligting oor waar die verdagtes hulself bevind, word versoek om met die naaste polisiestasie in kontak te kom, Stop Misdaad by 08600 10111 te bel of die MySAPS-toepassing te gebruik.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel