Jenélie Olivier (18) van Delareyville in Noordwes se metgesel na haar matriekafskeid het die koppe behoorlik laat draai.
Die 18 maande oue Pieter van der Hoff was Olivier se metgesel na haar matriekafskeid by Hoërskool Sannieshof wat Donderdag plaasgevind het.
Olivier vertel aan FiND iT sy het in Junie 18 jaar oud geword. Sy is die tweede oudste van vier kinders, haar oudste boetie word 21, haar jonger sussie is 16 en haar jongste boetie word 10.
“Ek het ‘n metgesel gehad wat saam met my na die matriekafskeid toe sou gaan. Die dag voor die matriekafskeid het hy gesê hy sal dit nie kan maak nie, want ‘n begrafnis wat hy moes bywoon, was op dieselfde tyd wat ons moes instap.”
Olivier moes toe inderhaas ‘n nuwe plan bedink en het besluit om haar nefie saam te nooi. “Ek het net daaraan gedink dat dit uniek sou wees, omdat ‘n peuter nog nooit saam met iemand ingeloop het nie.”
“Ek het besluit om hom te vat, omdat ek nou klaarmaak met my kinderlewe, en syne eintlik nou eers begin.”

Sy vertel sy en haar nefie het ‘n hegte band.
“As hy saam met my is, dink mense hy is my kind. Ons band is baie sterk, maar as ons vir ‘n naweek hy hulle gaan kuier en ons moet huis toe gaan, as ek hom vir sy ma of my ouma gee en loop, dan begin hy altyd huil.”
Sy vertel sy sou haar matriekafskeid op geen ander manier wou hê nie.
“Pieter is die oulikste klein mensie wat jy kan kry. Alhoewel hy nog nie baie kan praat nie, lag hy baie en sy laggie is aansteeklik. Hy is die beste metgesel waarvoor ek kon vra en ek sal wat gee om weer saam met hom in te loop.”
Sy vertel Pieter het nie ‘n spesifieke pak vir die geleentheid gedra nie, en dat hy sommer met die klere wat in sy kas was saam afskeid toe was. “Ek wou nie hê hy moes ongemaklik aangetrek wees nie en het sommer gedink dat dit nie nodig is om spesiaal klere te laat maak wat hy kan aantrek nie.”

Pieter het net saam met Olivier ingeloop en nie heelaand saam matriekafskeid gehou nie.
“Die matriekafskeid is sover die beste deel van my matriekjaar. Ek het nie verwag dat dit so lekker sou wees nie! Ek sal enigiets gee om dit weer oor te kon doen. Dit was een amazing experience.”



