ER24 het Sondagoggend gereageer op ‘n voorval waartydens twee mans dood en twee ander kritiek beseer is nadat hulle glo naby ‘n verlate gebou in Potchefstroom Industrial aan die brand gesteek is.
Om 05:00 het ER24 by die Ikageng-polisiestasie opgedaag nadat ‘n man met brandwonde ingebring is.
Die man het brandwonde oor die grootste deel van sy liggaam opgedoen en was in ‘n ernstige toestand.
Hy is behandel en van gevorderde lewensondersteuning voorsien voordat hy na ‘n nabygeleë hospitaal geneem is.
Om 07:00 is ER24 en Mooirivier Beskerming se First Responder-voertuig ontbied na ‘n verlate gebou in die Potchefstroom-nywerheidsgebied.
Paramedici het ‘n man met talle brandwonde wat ver van die gebou af gelê het, op die toneel gevind. Hy is ook behandel en na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
Plaaslike sekuriteitslede het later die gebou ondersoek en twee liggame binne gevind.
Albei pasiënte het reeds aan hul brandwonde beswyk.
Niks kon vir hulle gedoen word nie en hulle is deur die Mooirivier Beskerming se paramedici dood verklaar.
Die presiese besonderhede oor hierdie voorval is onbekend, maar plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoeke.



