‘n Man wat besig was om mango’s te pluk in die omgewing van ‘n sokkerveld het ‘n babadogtertjie in ‘n beboste area gekry.
Daar was ‘n nota by die baba geplaas.

Lede van Reaction Unit South Africa (Rusa) is na die toneel by Oaklandsrylaan in Dawncrest, KZN, ontbied.
‘n Sak met doeke, ‘n bottel melk en ‘n fopspeen het langs die kind gelê. ‘n Nota in Engels, wat vermoedelik deur die ma geskryf is, is ook by die baba gevind.
Dit het verduidelik dat sy twee keer met maatskaplike werkers kontak gemaak het, maar deur die stelsel in die steek gelaat is.
Die persoon wat die brief geskryf het, het gesê aborsie is nie meer ‘n opsie nie, aangesien dit nie meer veilig is nie en hospitale streng reëls het.
Sy het verder versoek dat owerhede in kennis gestel word wanneer die baba opgespoor word. Die man het toe sy werkgewer gekontak wat versoek het dat Reaction Unit SA na die toneel uitgeroep word.
Met hul aankoms op die toneel is die plek van ontdekking aan reaksiebeamptes uitgewys en die kind en die sak aan hulle oorhandig.
’n Vroulike beampte en medici is na die toneel ontbied en die kind se nat doek is omgeruil.
Die babadogtertjie is toe met ’n bottel melk gevoer.
Medici het die baba van ongeveer drie maande oud ondersoek en gevind dat sy goeie gesondheid geniet.
‘n Kriminele saak van kinderverlating sal geregistreer word. Reaksiebeamptes sal hulp soek om die kind of ma te identifiseer.
Indien enigiemand kan help met die identifikasie, bel asseblief 086 1234 333 (Rusa).
Foto’s: Reaction Unit South Africa (Rusa)
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



