Adele Venter se driejarige dogtertjie Milan het by die skool geval en ‘n fraktuur aan haar femur opgedoen.
‘n Ortopeed se prognose was dat Milan ‘n operasie moet ondergaan om penne in te sit.
Dié operasie kan dalk eers oor maande in ‘n staatshospitaal gedoen word. Intussen ervaar Milan pyn. Indien die staatshospitaalroete gevolg word, gaan sy volgens Adele glo eers vir ses weke in traksie gesit word.
Adele het dadelik aan die werk gespring om haar kind te probeer help deur geld in te samel.
Die hospitaalkoste is R45 000 waarvan sy reeds R15 000 kon insamel.
Sy het haar pleidooi vir verdere hulp op sosiale media gedeel en siedaar, ‘n engel in die vorm van dr. Pieter Lafras Lourens het dit raakgesien en hulp aangebied.
Die goeie nuus wat hy met Adele gedeel het, is dat hy alles vir Milan gaan doen teen ‘n derde van die prys van die kwotasie wat sy reeds ontvang het.
Die geld wat sy reeds ingesamel het, is dus genoeg.
Die gawe dokter bied ‘n bespreekte teater by die Hibiscus-hospitaal in Port Shepstone, sy diens, die diens van ‘n narkotiseur, assistente en opname in die hospitaal vir ‘n aand, aan.
Milan word vanoggend om 08:00 opgeneem en geopereer om haar op haar pad na herstel te plaas.
Adele staan verstom oor al hierdie goedgunstigheid en het gesê enige fondse wat oorbly vir ‘n kind in nood op die Hemelse Pêrels-groep geskenk sal word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



