‘n 36-jarige vrou is deur ‘n tronkbewaarder vir die beweerde besit van dwelms by die Bethal- korrektiewe sentrum aangekeer.
Die vrou is glo betrap voordat sy gister 27 September 2022 die perseel betree het om ‘n gevangene te besoek.
Volgens ‘n verklaring deur die polisie is die vroulike besoeker volgens tronke se standaardprosedures deursoek waartydens ‘n swart plastieksak op haar gevind is.
Daar is toe ontdek dat die plastieksak gevul is met sowat 59 verskillende soorte tablette, asook 20 klein plastieksakkies en ander stowwe, insluitend fyngedrukte blare en ‘n plastiekbottel wat olie bevat.
Die polisie is na die toneel ontbied waar die vroulike verdagte gearresteer en van die onwettige besit van dwelms aangekla is.
Die sak en die inhoud is gekonfiskeer hangende ‘n forensiese ondersoek.
Die geraamde straatwaarde van die beweerde dwelms is sowat R6 000.
Die ondersoek dui daarop dat die beweerde items vir ‘n gevangene, wie se saak nog ondersoek word, bestem was.
Die polisie en gevangenisbeamptes het glo daarna die gevangene se blyplek in die gevangenis deursoek.
’n Bykomende plastieksak met dagga is gevind. Die gevangene staan ook tereg op ‘n aanklag van die besit van dagga en sal binnekort in die hof verskyn. Me Lorraine Nomsa Makhubele het egter vandag 28 September 2022 in die Bethal-landdroshof verskyn op aanklag van die beweerde besit van dwelms.
‘n Moontlike aanklag van dwelmhandel kan bygevoeg word soos die ondersoek voortduur.
Tydens Makhubele se hofverskyning is die saak tot 5 Oktober 2022 uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek. Intussen is die verdagte in aanhouding.
Die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, het amptenare van die korrektiewe fasiliteit geloof vir hul waaksaamheid en vir die arrestasie sowel as die terugwinning van die items.



