Vandale vernietig waardevolle brons gedenkteken

Deel hierdie storie / Share this story

Die waardevolle Diggers Memorial Fountain-gedenkteken in Kimberley is vandeesweek beskadig en word stuk-stuk deur vandale weggedra.

Dié gedenkteken is ontwerp deur Herman Wald en is die mees opvallende kenmerk van die Ernest Oppenheimer-gedenktuine in Kimberley.

Die beeld, wat van brons gemaak is, beeld vyf lewensgroot mynwerkers uit wat ‘n diamantsif omhoog hou.

Elk van die vyf figure verteenwoordig een van Kimberley se vyf groot diamantmyne, naamlik die Kimberley-myn, De Beers-myn, Bultfontein-myn, du Toitspan-myn en die Wesselton-myn.

Johan Smit, VF Plus-raadslid van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê dit vereer die delwers wat baanbrekerswerk in die diamantbedryf gedoen het en is daarom The Diggers Memorial Fountain gedoop.

Vir baie jare was dit een van Kimberley se groot toeriste-aantreklikhede.

“Ongelukkig is die prys van brons hoog en die waarde daarvan is deur vandale raakgesien. ‘n Paar jaar gelede is die sif weggedra. Dele daarvan is opgespoor en lê tans by die polisie as bewysstukke. Dinsdagnag is een van die “delwers” bo van die staanplek af verwyder. Skoonmaakspanne het Woensdagoggend die beeld in die tuin sien lê. Ongelukkig is die arms reeds verwyder,” sê Smit.

Die VF Plus dring daarop aan dat Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit Kimberley se kultuurskatte beskerm.

“Dit is tragies dat hierdie misdaad waarskynlik nie ‘n vorm van haatmisdaad is nie, maar bloot armoede wat mense dryf om uit enigiets geld te probeer maak. Solank die ANC se mislukte ekonomiese beleid geld, kan verwag word dat hierdie soort misdaad en vandalisering van kosbare kultuurskatte sal voortduur,” voer Smit aan.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel