Die seun van ‘n 53-jarige vrou is in hegtenis geneem nadat hy glo sy ma se keel afgesny het en dit soos ‘n inbraak laat lyk het.
Die vrou is per ambulans na die Pholosong-hospitaal in Tsakani vervoer voordat die polisie opgedaag het, maar het die volgende dag aan haar wonde beswyk.
LEES OOK: Drie moorde in een week op Brakpan
Twee slaapkamers in die huis was glo geplunder en kaste was wawyd oop met bloedvlekke op die handvatsels.
Kapt. Pearl van Staad, polisiewoordvoerder, sê by ondersoek was die skuifdeur wat na die agterkant van die huis lei, oop – ook met bloedvlekke op die vloer en handvatsels. Buite was die heining en elektriese heining gesny en dit blyk dat toegang daardeur verkry is.
’n Bloedbevlekte Okapi-mes met ’n bruin handvatsel is in die gras naby die heining gevind.
Van Staad het verduidelik die slagoffer se seun (28) het aan die polisie gesê hy het sy ma omstreeks 11:30 die oggend laas gesien. Hy het verder gesê hy het omstreeks 12:45 ‘n oproep ontvang van iemand wat hom ingelig het daar is iemand op die perseel. Hy het gaan kyk deur om die huis te ry, maar het nie die woning binnegegaan nie. Hy het beweer dat hy toe Boksburg toe moes gaan om sy vrou te ontmoet.
Die slagoffer se selfoon en skootrekenaar was vermis.
Ná haar dood het ‘n polisiespan uitgegaan en ‘n verdere ondersoek by die huis gedoen.
Familielede en bure is weer ondervra en forensiese ondersoekers is weer na die toneel ontbied.
Daar is beslag gelê op alle selfone as bewysstukke.
“Die seun is Vrydag vir ondervraging in Daveyton geneem waar hy sy ma se dood beken het,” het Van Staad gesê.
“Die betrokke rolspelers vir ‘n bekentenisverklaring is ontbied en hy het sy medepligtige uitgewys.”
Die seun en sy 28-jarige manlike medepligtige is albei Saterdag in die vroeë oggendure aangehou.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



