Drie moorde in een week op Brakpan

Deel hierdie storie / Share this story

Die Brakpan-polisie ondersoek ‘n drietal moorde nadat drie inwoners verlede week afsonderlik hul lewens gewelddadig verloor het.

Die liggaam van die bekende Brakpan-inwoner Ken Appelcryn (55), die eienaar van AAS Sekuriteit, is in ‘n voertuig in ‘n veld gevind ná ‘n inbraak by ‘n drankwinkel op Maryvlei vroeg verlede Woensdagoggend.

Hy is noodlottig geskiet nadat hy gereageer het op die voorval waartydens drank en ander waardevolle items gesteel is.

Volgens Brakpan se SAPD-woordvoerder, kapt. Pearl van Staad, is die polisie omstreeks 02:20 van ‘n inbraak in kennis gestel.

Met die aankoms van die polisiebeamptes op die toneel het ‘n veiligheidswag een van die beamptes na ‘n oop veld in Withok Estates geneem.

“Op die toneel in die veld het die beampte een man gevind wat op die grond gelê het en nog een in ‘n voertuig,” het Van Staad gesê.

Die man op die grond was ontwapen van ‘n geweer wat in sy broek versteek was. Hy het veelvuldige wonde aan sy bolyf opgedoen, is op die toneel behandel en onder polisiebewaking na die Verre Oos-Rand-hospitaal geneem.

Appelcryn, wat in die motor was, is op die toneel dood verklaar.

Van Staad het aan Brakpan Herald gesê daar is agt patrone gevind, asook bottels alkohol en sigarette.

Die verdagte se vuurwapen het vyf rondtes ammunisie bevat.

Later die dag, omstreeks 18:20, is ‘n huisroof by die polisie aangemeld.

Die 53-jarige vroulike huiseienaar se keel is vermoedelik deur haar seun afgesny.

Die seun het aanvanklik gesê hy het sy ma die laaste keer op die dag van die moord om 11:30 gesien, maar nadat daar op selfone beslag gelê is, is die seun en sy vermeende medepligtige vasgterek.

Lees die volle artikel hier:

https://find-it.co.za/2022/09/28/seun-sny-vermoedelik-ma-se-keel-af/

Die derde moordsaak van die week is Sondag geopen toe die polisie omstreeks 11:30 na ‘n toneel ontbied is.

Hulle het ‘n verslag van ‘n huisroof ontvang en met hul aankoms is die liggaam van ‘n 55-jarige man by die huis gevind.

“SAPS-lede het ‘n vrou huilend in haar motor buite die erf geparkeer gekry,” het Van Staad gesê.

“Sy het beweer haar man is vermoor en sy wit Nissan Navara-bakkie is gesteel.

Sy is deur paramedici behandel.

By verdere ondersoek is die liggaam van ‘n man gevind wat met ‘n groen plastieklap bedek was.

Die liggaam het veelvuldige beserings aan die kop en bolyf gehad en paramedici het hom op die toneel dood verklaar.

Behalwe die voertuig is tuingereedskap, ’n grassnyer, kompressor, kragopwekker, selfoon, huissleutels en ander items gesteel.

Geen arrestasies is in verband met dié saak gemaak nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel