
‘n 72-jarige man is Dinsdagogoggend wreed tydens ‘n plaasaanval vermoor, aldus kol. Donald Mdhuli, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga.
Delmas-polisiestasie het die noodoproep van ‘n moontlike plaasaanval op ‘n Farmwatch-groep op sosiale media ontvang toe ‘n bekommerde familielid alarm gemaak het.
Met hul aankoms op die plaas Klipspruit Waaikraal (tussen Delmas/Bronkhorstspruit) is ‘n manlike pensioenaris gevind waar hy roerloos in ‘n plas bloed lê.
Die boer, wat intussen as mnr. Jessie Henry Coleman, geïdentifiseer is, was voor sy aftrede ‘n veearts op Benoni.
“Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die slagoffer se hande en voete vasgebind was toe hy gevind is.”
Toegang tot die huis is glo verkry deur die agterdeur wat oopgebreek is.
Die huis is geplunder en Coleman se selfoon, wat moontlik deur die verdagtes gesteel is, word vermis. Die polisie het dus ‘n klag van huisroof by dié van moord gevoeg.
Die polisie-ondersoek in die saak duur voort en alle leidrade word opgevolg.
“Die motief vir die moord is in dié stadium nog onbekend.”
Lt.genl. Daphney Manamela, die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, veroordeel die voorval ten sterkste.
Enige persoon met inligting wat kan help met die ondersoek om die oortreder (s) vas te trek, kan speur-AO Jacques Smook kontak by 0825272974 of die Crime Stop-nommer by 08600 10111.
Inligting kan ook via die MySAPS-toepassing verskaf word.
Alle inligting wat ontvang word, sal as vertroulik hanteer word en bellers kan kies om anoniem te bly.
Pretoria FM sê dit blyk of Coleman oorval en geskiet is.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



