Altesaam 160 werknemers van die Sol Plaatje-munisipaliteit en 19 raadslede is die week by die munisipale spele in Mpumalanga. Die begroting vir dié week se “pret en plesier”, is R1.5 miljoen.
Elize Niemann, DA-raadslid, sê die begroting is nooit deur die raad goedgekeur nie en die DA sou dié “vrugtelose en verspilde uitgawe” ten sterkste teenstaan.
Thoko Riet, woordvoerder vir die munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit betaal nie vir die week se spele nie. “Diegene wat gegaan het, het aansoek om spesiale verlof gedoen en hulle verlof vir kontant gewissel.”
Riet sê die munisipaliteit het ‘n beleid waar personeel hulle verlofdae kan inruil vir kontant. “Die was ‘n spesiale versoek. Personeel kan hulle verlof slegs inruil om munisipale skuld af te betaal.” Sy het bygevoeg geen geld van die munisipale koffers is gebruik nie.
Niemann stem nie saam nie. “Die mense het nie hulle verlof verkoop nie. Daai reëling is al verlede jaar, toe die munisipaliteit in ‘n geldelike penarie was, geskrap. Weens die onverwagte siekte van die Speaker, kon die raad egter nie sy sitting verlede week Donderdag afhandel nie en geen besluit oor die spele is geneem nie.”
Die speaker het verlede Donderdag onverwags inmekaar gesak en moes per ambulans na ’n hospitaal gebring word.
Niemann het ‘n beroep gedoen op Bentley Vass, LUR vir COGHSTA, gedoen om die “misbruik van fondse” by die munisipaliteit aan te spreek.
“Ons is besorgd oor vrugtelose en verspilde uitgawes, veral as mens die huidige stand van die stad in ag neem. Die munisipaliteit kan dit glad nie regverdig om R1.5 miljoen op pret en plesier te mors terwyl inwoners daagliks sonder dienste sit nie. Toe die raad laas in 2019 genader is met ‘n soortgelyke versoek, was die versoek van die hand gewys en die besluit geneem om eerder hierdie geld aan broodnodige dienslewering toe te wys.”
Kimberley sit tans – 27 September, 2022, om 12:15, sonder water.
Niemann sê die DA sal versoek dat hierdie aangeleentheid tydens die volgende raadsitting bespreek word. “Ons wil weet wie die skoon tjek vir die vermorsing gegee het. Ons sal weier dat hierdie misbruik van fondse as ‘n afwyking gerapporteer word en ons sal dit nie aanvaar dat daar nie genoeg tyd was om die regte prosesse te volg nie. Die DA sal ook vrae indien om vas te stel watter raadslede die spele bygewoon het en hoe ons die kostes persoonlik kan verhaal van diegene wat die staatskoffers as hul eie spaarvarkies gebruik.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



