Dylan Lourens (22) van Klerksdorp is op ‘n waglys vir ‘n dringende nieroorplanting. Sy pa, Johann, het al die nodige toetse laat doen en kan vir sy seun ‘n nier skenk, maar hy is ‘n staatspasiënt en met die Covid-19 -inperking kon die operasie nie gedoen word nie.
Dylan het intussen so siek geword dat hy nie ‘n nieroorplanting kan kry nie.
Sy pa het oor die afgelope paar dae hartverskeurende pleidooie op sy Facebook-blad gemaak.
“Bid vir my seun dat hy kan gesond raak en weer mens kan raak.”
Johann Lourens is terselfdertyd hartseer en woedend omdat hy as pa nie sy rolstoelgebonde seun wat van suurstof afhanklik is kan help nie, omdat hy nie sonpanele of ‘n kragopwekker kan bekostig nie.
Hy is kwaad vir televisienuus wat sê dat die land vooruitgaan met elektrisiteitsvoorsiening. Hy is kwaad omdat bevoordeeldes minder of selfs geen beurtkrag het nie, terwyl ander gebuk gaan onder die lading van urelange beurtkrag.
En dan was daar hierdie voorhamerhou.
“My kind kon ‘n nier gehad het, maar toe stop lockdown alles.”
Hy wil weet wie verantwoordelikheid gaan neem indien sy seun sou sterf as gevolg van nalatigheid.
Gister het die ondenkbare gebeur toe sy seun se hart gaan staan het.
“Hulle het 20 minute lank gesukkel om hom terug te kry.”
“My arme kind verdien nie dié lewe nie en ‘n ouer verdien nie om te sien hoe sy kind besig is om weg te kwyn nie.”
Beide Dylan se ouers kon hom vanmiddag besoek.
“Dylan het die roomys wat ek vir hom gevat het dadelik geeët. Hy is skielik van die hoësorgeenheid na die “niereenheid’ oorgeplaas. Die dokter aan diens kon nie antwoorde gee nie, behalwe dat hy in ‘end stage renal failure‘ is en het ons na die nefroloog verwys.”
“Sy dokter is bekommerd oor sy emosionele welstand en het gesê dat die volgende vier weke Dylan se lot gaan bepaal. Daar is blykbaar gevra vir ‘n familievergadering wat môre moet plaasvind.”
“Hy was nou basies vir agt weke in die hospitaal en ‘n longoperasie was nie suksesvol nie.”
“Ek moes Klerksdorp toe trek om nader aan die hospitaal te wees, want met ‘n stukkende motor en petrolkostes kan ek net doodeenvoudig nie voorbly nie.”
“Op hierdie stadium het ek meer vrae as antwoorde.”
Megan, Dylan se sussie, het aan FiND iT Nuus gesê: “Ek het regtig nie woorde om te verduidelik hoe moeilik dit vir hom (Johann) is nie, maar deur alles bly hy staande en is die skouer vir die res van ons wat nie sterk genoeg is nie.”
“My pa het self ‘n plan gemaak en ‘n stuurstofmasjien sonder reguleerder en ‘n rolstoel geleen.”
Enigiemand wat die familie kan bystaan, kan met Johanne Lourens kontak maak by 062 821 7356.


Johann het 14 ure gelede hierdie plasing gemaak:
“Vanaand sit ek met trane in my oe. My kind het geflatline vandag. Hulle het 20 minute lank gesukkel om hom terug te kry en ‘n klomp adrenalien toegedien. Hy is nou in ICU en het baie seer. Met al die kompressies is daar van sy ribbes af. Hy is op suurstof en kan nie sonder dit nie. Hy is in ‘n kritieke toestand en my kind bly vir my vra of hy dood was. Waarop ek geen antwoord het nie. My hart is stukkend. Ek vra asseblief dat almal wat my ken en vir Dylan ken vir hom sal bid dat hy kan gesond raak en weer mens kan raak. My arme kind verdien nie dié lewe nie en n ouer verdien nie om te sien hoe sy kind besig is om weg te kwyn nie.”
Hierdie plasing van Johann is twee dae gelede gemaak:
“Vanaand sit ek en nuus kyk en daar is ‘n vrou wat praat oor ons elektrisiteitstoestand in ons land, oor hoe ons vooruitgaan in elektrisiteitsvoorsiening. Dan sit ek en dink aan hoe ons drie keer ‘n dag loadshedding kry en dan praat ek van vier en n half ure, drie keer ‘n dag. Dan sit ek ook en dink aan almal wat ek ken met wie ek praat wat sê hulle krag moes afgaan en het nooit en dié wat sê hulle kry glad nie loadshedding nie. Dan dink ek aan die regverdigheid daarvan oor ‘n myn nie sonder krag kan sit nie en hoe ‘n lanie deel van ‘n dorp of stad ook nie sonder krag mag sit nie, want daar bly een of ander hooggeplaasde. Dan dink ek aan die tyd wat ek sonder krag sit en my kind wat op die stadium van sy lewe afhanklik is van suurstof en ek kan dit nie vir hom gee nie, want ons sit sonder krag en ek kan nie ‘n generator of solar bekostig om sy masjien aan die gang te hou nie. Sonder suurstof kan my kind nie vyf treë loop nie en dan moet ek as enkelpa rondstaan om hom te help. My kind is rolstoelgebind a.g.v. suurstoftekort en nalatigheid van sekere instansies wat ek nie mag noem nie, want dan word hy afgehaal van sekere programme af. Catch twenty two op sy beste. Ek het verantwoordelikheid vir my kind en my kind kon ‘n nier gehad het, maar toe stop lockdown alles. Vanaand wil ek weet wie gaan verantwoordelikheid vat as my kind moet sterf a.g.v. nalatigheid van onse ANC-regering wat geld steel vir infrastruktuur en whatever. Maar hulle kan nie die persoon toesluit wat ons land in ‘n absolute gemors gedompel het nie.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



