Dewald en Izanie Pretorius se VW Polo het geen kans gestaan teen die weghol-vragmotor wat net voor 13:00 onbeheerbaar deur strate en oor ‘n kruising van die dorp Lydenburg in die Laeveld van Mpumalanga gejaag het nie.
Die paartjie is in Januarie 2018 getroud en Izanie was glo swanger met haar en Dewald se eerste kind. Izanie was die eienaar van The Be-You-Tea Salon op Lydenburg.
Die vragmotor wat die niksvermoedende dorpie van die Longtom-pas af binnegekom het, se remme het glo gefaal en dit het op spoed met ongeveer 15 motors gebots.
Sommige motors is tydens die impak saamgesleep, wat die ongelukstoneel oor 4 km gestrek het.
Alle nooddienste; SAPD, TLMC se brand-en-reddingseenheid, saam met Netcare 911, verkeer en munisipale rampwerkers was binne minute op die toneel om hulp te verleen, maar die paartjie het ongelukkig tydens impak gesterf.
Dries Strydom, ‘n plaaslike pastoor, het op die toneel gehelp en berading gegee aan persone wat deur die ongeluk getraumatiseer is.
Volgens ‘n straatverkoper het die bestuurder aangedui dat voertuie uit die pad moes beweeg.
Die slagoffers wat in Voortrekkerstraat in die botsing betrokke was, het slegs ligte tot matige beserings opgedoen.
Die bestuurder van die vragmotor, wat blykbaar op pad terug was na Sinoville in Pretoria, is vir erge skok behandel.

Fotokrediet Siska Pienaar


Bron: Narda Vermaak My Panorama, Steelburger / Lydenburg News, Arrive Alive
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



