Wat is nou lekkerder as ‘n snytjie warm brood met dik botter!? Bak dit vir Erfenisdag en bedien dit saam met ‘n lekker tjoppie en ander bykosse in plaas van die tradisionele braaibroodjies. Of draai so ‘n vars broodjie toe in ‘n mooi vadoek en gee dit vir iemand wat jy wil bederf.
Bestanddele (genoeg vir 2 brode in die kleiner pannetjies)
1 kg bruinbroodmeel
2 x pakkies 10 g kitsgis
10 ml sout
60 ml suiker
600 ml louwater
Metode
Meng 200 ml van die lou water, suiker en kitsgis in ‘n beker. Laat dit staan vir 10 minute totdat dit sponserig raak.
Meng meel en sout in ‘n mengbak.
Voeg nou die water met kitsgis by die meel en begin dit met ‘n vurk of jou hande inwerk.
Voeg nou stadig die res van die water in en bewerk dit totdat jy ‘n stywe deeg kry.
Strooi meel op jou kombuisoppervlakte en knie die deeg vir ten minste 10 minute op die blad.
Die deeg sal van jou hande afkom en elasties voel. Smeer bietjie olie in jou mengbak en sit die deeg daarin. Smeer ook ‘n bietjie olie op jou deeg. Maak dit toe met ‘n vadoek en laat dit rys tot dubbel sy grootte. ( As ek haastig is, of dit is koud, stel ek my oond op 35 °C en sit dit in my oond, toegemaak met ‘n lappie.)
Smeer twee broodpannetjies en verdeel die deeg tussen die pannetjies. Maak weer toe en laat dit weer rys tot dubbel die grootte.
Bak dit teen 180 °C vir 60 minute. Klop op die brood en as dit hol klink, is dit gaar.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



