Kimberley ‘verlam’ deur wateronderbrekings

Deel hierdie storie / Share this story


Terwyl Kimberley gereed maak vir nóg ‘n verlammende vyf-dag-wateronderbreking in Oktober, het die DA die ernstige versuim van Sol Plaatje-munisipaliteit om beloofde water- en rioollekkasie-herstelwerk oor die afgelope maande en selfs jare in te stel, blootgelê.

“Omvattende oorsiginspeksies gister, saam met DA-raadslid Ockert Fourie, na verskillende water- en rioollekplekke in en om Kimberley, het die skokkende mate waarin duisende liters vars water en rioolwater die veld instroom, blootgelê,” sê Shelley Fielding, woordvoerder.

Die lekkasies wat geïdentifiseer is, is al verskeie kere by die Sol Plaatje-munisipaliteit aangemeld. Dit is kommerwekkend dat sommige lekkasies selfs tydens die vorige waterafsluiting vroeër vanjaar vir herstelwerk uitgewys is, insluitend lekkasies op die 965 mm-pyplyn by die 3SAI Militêre Basis en naby die Gogga-pompstasie. Daar word verwag dat ‘n aantal van dieselfde lekkasies weer geïdentifiseer sal word vir herstel in die Oktober-wateronderbreking, lui ‘n verklaring.

Fielding sê die situasie is kommerwekkend. Óf werk word nie afgehandel soos belowe nie, ten spyte daarvan dat inwoners dae sonder water moet verduur, óf herstelwerk is eenvoudig nie volhoubaar nie. 

Die DA se sleutelbevindings met betrekking tot mega-rioollekkasies en lekkasies wat uit die Riverton-pyplyn kom, is soos volg:

1. Die nuut opgegradeerde Gogga-pompstasie, waaraan onlangs R25 miljoen bestee is, is in ‘n werkende toestand, maar werk nie omdat daar talle rioolverstoppings is wat verhoed dat riool dit bereik nie. Daarom is die pompstasie tot stilstand gebring. Selfs wanneer daar genoeg rioolwater deurkom, kan dit nie na die Homevale-rioolaanleg gestuur word nie, omdat dié aanleg tans nie in werking is nie. 

2. Riool- en varswaterlekke vanaf die Gogga-pompstasie vloei steeds na die R31-pad wat vroeër vanjaar oorstroom is. Hierdie lekkasies is reeds 18 jaar in wording en dra steeds by tot die massiewe watermassa op die R31. Dit was een van die hoofredes vir die vorige watersluiting en dit is weer een van die redes vir die komende wateronderbreking in Kimberley vanaf 6 tot 10 Oktober. 

3. Massiewe varswaterlekkasies by die #3SAI weermagbasis, waar nuwe rekrute opgelei word, duur voort. 

4. Varswaterlekkasies op pad na die N12 en op die N12 is omvangryk en vererger steeds die risiko dat hierdie pad ook, soos die R31, in die meer sal verdrink. Sien video hier en foto’s hier.

5. Nog ‘n groot varswaterlekkasie op die Riverton-pyplyn, soos gerapporteer deur Rdl, Fourie, is ook steeds nie herstel nie. Dié lekkasie raak boere in die omgewing, wat sonder water vir hul vee sit.

“Die verdoemende situasie wys net hoe vatbaar Sol Plaatje se water- en riool-infrastruktuur is, wat steeds tot rampspoedige gevolge lei.

Die DA sal die Oktober-wateronderbreking fyn dophou. Raadslede sal ook ‘n gedetailleerde uiteensetting van die munisipaliteit versoek, van werk wat gedoen moet word en kostes daaraan verbonde, sowel as ‘n volhoubaarheidsverslag oor die geprojekteerde uitkomste. Dit kan nie wees dat dieselfde herstelwerk keer op keer gedoen word nie, en tog is daar geen verbetering in die toestand van die stad se water- en rioolpypleidings, en groeiende vleilande nie,” sê Fielding.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Adam Levine en Behati Prinsloo verwag derde baba