Jou oorlewingsgids vir beurtkrag

Deel hierdie storie / Share this story

Baie Suid-Afrikaners is keelvol vir beurtkrag en dit kan soms te veel raak wanneer jy sukkel om alles betyds gedoen te kry voor die krag (weer) afgaan.

Hier volg ‘n paar wenke om beurtkrag ‘n bietjie makliker te maak.

Maak seker jy het genoeg kerse en vuurhoutjies/aanstekers, en sit dit iewers waar dit maklik bereikbaar is wanneer dit donker is.

Moenie ‘n kers laat brand as jy nie in ‘n vertrek is nie. Blaas dit eerder dood en steek die kers weer aan wanneer jy weer in die vertrek besig is.

Moenie jou yskas gereeld oop en toe maak nie. Die inhoud sal langer koud bly as jy die yskas minder oopmaak.

Jy kan ook 2l-waterbottels vries en in jou yskas of vrieskas hou om die inhoud langer koud te hou.

Laai jou selfoon en skootrekenaar betyds voor die krag afgaan. Skaf vir jou ‘n kragbank (powerbank) of twee aan sodat jy jou selfoon kan herlaai selfs wanneer die krag af is. Kry ‘n selfoonlaaier wat jy in jou motor kan gebruik.

Laai ‘n gepaste toep af van PlayStore of AppStore en bly op hoogte van die verskillende beurtkrag-fases. MyEskom of EskomSePush is goeie voorbeelde.

As jy kan, druk die rooster uit en plak dit op die yskas, sodat jy en jou gesin kan voorberei vir wanneer die krag afgaan.

Maak ‘n lekker groot fles vol kookwater sodat jy steeds ‘n koppie koffie of tee kan geniet.

Oorweeg dit om ‘n gasstoof te koop, sodat jy steeds kan kosmaak en water kook (al is dit ook by kerslig).

Indien jy ‘n elektriese hek of deur by jou huis het, hou die nodige batterye in voorraad sodat jy nie uit die huis gesluit word wanneer die krag afgaan nie.

As jou begroting dit toelaat, belê in ‘n kragopwekker. As jy reeds een het, maak seker dat jy genoeg brandstof het om dit aan die gang te hou.

Sonpanele is ook ‘n moontlike langtermyn-oplossing; jy sal nie meer so afhanklik van Eskom wees nie.

Jy kan ook ligte wat met sonpanele werk, aanskaf. Dié ligte herlaai deur die dag en kan in die aand vir jou lig verskaf.

Onthou dat wanneer verkeersligte af is, jy dit soos ‘n vierrigtingstop moet hanteer.

En laastens… Wanneer jy en jou gesin klaar geëet het en ‘n koppie koffie sit en drink, gemaak met die warm water in die fles, sit en geniet mekaar se geselskap of luister ‘n bietjie na die radio.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel