Claudia van Op My Eish! 2 vind liefde: ‘Dit het met ‘n doel gebeur’

Deel hierdie storie / Share this story

Claudia Hermann, wat tot die laaste rondte van die pasmaatreeks Op My Eish! 2 deurgedring het, het nou liefde gevind in die arms van die 37-jarige Quintus Kruger.

Hermann, ‘n naeltegnikus van Centurion, dink nou terug na die laaste episode op Op My Eish! 2, toe sy en Leyla van Greuning besluit het om hul uit die pasmaatreeks te onttrek, en meen dit het definitief met ‘n doel so uitgedraai.

Francois Jacobs en Nykie Pretorius, wat ook na die laaste rondte van die reeks deurgedring het, het die aand voor die laaste episode geskiet is, tyd saam deurgebring. Die reëls van die reeks was dat die meisies nie weg van die kameras tyd saam met hom mag deurbring nie. Dié twee is steeds in ‘n gelukkige verhouding ná die kameras vroeër vanjaar ophou rol het.

“Dit het definitief met ‘n doel gebeur,” vertel Hermann. “Ek kan nie sê hoe verlig ek is dat dinge so gebeur het nie. Ek en Leyla sien mekaar gereeld en ons sê elke dag hoe bly ons is om te wees waar ons nou is met wie ons nou is, want hierdie is ons tipe mense.”

Kruger, ‘n projekbestuurder, het haar voete van die eerste afspraak af onder haar uitgeslaan, vertel Hermann.

“Hy het vir my ‘n boodskap op Instagram gestuur. Toe gaan ‘stalk’ ek hom eers voor ek besluit het om te antwoord. Ons het daardie aand en die aand daarna twee ure oor die foon gesels en van daar af was dit ‘n roetine vir elke dag.”

Sy sê hulle het by ‘n plaaslike restaurant vir die eerste afspraak ontmoet en na al die plekke toegemaak het, het hulle nog vir lank in die parkeerarea gesit en gesels. “Dit het met die tweede afspraak ook gebeur en van daar af het elke afspraak net beter geraak.”

Hermann sê die deelnemers is aan die begin van die reeks gewaarsku dat “jou man jou gaan raaksien”. “Ek het dit nie geglo nie, omdat ek maar self vol dinge is as dit daarby kom om iemand te ontmoet. Daar was net iets anders aan hom wat my interesseer het. Sy positiwiteit het my na hom aangetrek en ek wou hom beter leer ken.”

Die paartjie is beide baie lief vir markte en feeste en Hermann vertel hulle wil nog baie daarvan bywoon. “Hy wil my ook leer gholf speel!”

“Ons altwee is ook baie lief vir eet en ons is baie familie-georiënteerd. Ons is ook baie lief vir diere en het al ‘n hele strategie uitgewerk om te kyk wie gaan eerste aan ‘n hond vat en cuddle as ons een iewers sien,” lag sy.

“Dis só ‘n lekker gevoel om so uit te sien daarna om iemand weer te sien. Die senuwees terg nog voor ek hom sien en dis die lekkerste gevoel om te weet iemand kyk na jou en dra jou letterlik op sy hande.”

“Dis ‘n seëning om te weet dit kom van albei kante af en ek hoef nie te wonder waar ek met hom staan nie. Dis so lekker om so trots te wees om hom my kêrel te noem!”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel