Die liggaam van ‘n pasgebore baba is Donderdag om 06:00 by ‘n huis op die Ga-Mashabela-dorpie gevind. ‘n Ondersoek is deur die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Thembi Hadebe, van stapel gestuur.
Luidens ‘n verklaring deur die polisie het lede van ‘n gesin wakker geword en die liggaam van ‘n pasgebore baba wat in ‘n plastieksak toegedraai is, op hul voorstoep gekry.
Die polisie is ontbied en ‘n ondersoek is begin.
“Daar word vermoed dat die babadogtertjie, wat omtrent ‘n dag oud is, verwurg is voordat sy in die sak gesit is. Daar is ook gevind dat die liggaam reeds in ‘n gevorderde stadium van ontbinding was. Die ma van die kind is nog nie geïdentifiseer nie.
“Die polisie het ’n saak van moord geopen en die omstandighede rondom die voorval sal deur voortgesette ondersoeke bepaal word.
“Dit is ‘n baie verskriklike en ontstellende voorval. Die ondersoekbeamptes moet meedoënloos die verdagte(s) wat vir hierdie barbaarse daad verantwoordelik is, opspoor en aankla.
“Ons doen ’n beroep op gemeenskapslede om na vore te kom met enige inligting oor die ma van die kind of oor die moord om die ondersoek te bespoedig.
“Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, AO Frank Makola by 076 618 5947 of kapt. Matipa Mokonyama by 082 040 3242 of die Stopmisdaadnommer by 08600 10111 bel,” het Hadebe gesê.



