Die Blou Bulle-rugby-unie het die naweek aangekondig Jake White gaan tot 2027 aan die stuur van die span wees nadat sy kontrak verleng is.
Die 58-jarige afrigter wat in 2007 die Springbokke die Wêreldbeker help wen het, het hom in 2020 by die Vodacom Bulls aangesluit waar hy hulle na twee rugby- Carling Curriebeker-titels sowel as die Vodacom Super Rugby Unlocked-kroon geneem het voordat hy die span in die eerste Vodacom United Rugby Championship ingestuur het.
Die span het ook tydens die United Rugby Championship-kompetisie die eindstryd van die kruis-hemisfeer-toernooi gehaal.
White het nou sy verblyf in Tshwane vir die volgende vyf jaar verleng nadat hy ‘n kontrakverlenging geteken het wat hom tot 2027 aan die stuur plaas van die span wat aan die Vodacom VGK, Heineken-kampioenebeker en die Carling-Curriebeker gaan deelneem.
“Ons is verheug om aan te kondig dat die Vodacom Bulls se direkteur van rugby, Jake White, hom daartoe verbind het om tot 2027 by die span aan te bly,” het Blue Bulls Maatskappy se uitvoerende hoof, Edgar Rathbone, Vrydag bevestig.
“Jake het sedert sy aankoms twee jaar gelede ‘n onmeetbare invloed by die Vodacom Bulle gehad en bou steeds aan ‘n formidabele span wat teen die bestes in die wêreld gaan meeding. Sy rekords spreek vanself en met hierdie langtermyn verbintenis kan ons verseker wees dat hy daartoe verbind is om die Vodacom Bulle oor die volgende paar jaar na groter hoogtes te neem.”
White sien ook daarna uit om voort te gaan met die werk wat hy by Vodacom Bulle begin het.
“Dit verskaf my groot vreugde om vir ‘n langtermyn tydperk by die Vodacom Bulle te kan verbind. Dit gee my troos en selfvertroue om voort te gaan om ‘n sterk span te bou wat sal meeding en onder die beste rugbyspanne in die wêreld gereken sal word,” het hy gesê.
“Ek is dankbaar teenoor die Blou Bulle Maatskappy se direksie, personeel en spelers vir hul ondersteuning en vertroue in my. Ek sien uit daarna om oor die volgende vyf jaar voort te werk om die Vodacom Bulls-handelsmerk te verhoog en meer trofeë by ons kabinet te voeg.”
Bo en behalwe sy prestasie om die Springbokke tot die Wêreldbeker-titel in 2007 te lei, het White ‘n positiewe invloed gehad in ander spanne wat hy afgerig het, wat die Brumbies in Australië, die Cell C Sharks in Suid-Afrika, Montpellier in Frankryk en Toyota Verblitz in Japan insluit. White is ook in 2011 opgeneem in die Wêreldrugby se Hall of Fame.



