‘n Matriekleerling aan die Hoër Tegniese Skool in Kimberley is tragies oorlede.
Die skool skryf op sy Facebook-blad dat Wafeeq van Rooyen ‘n buitengewone respekvolle, gawe en nederige jong man was wat altyd ‘n warm glimlag gehad het en grappies kon deel.
“Hy was ‘n stil, ‘gentle soul’, ‘n lojale vriend, ‘n geliefde leerling vir sy onderwysers en ‘n wonderlike byvoeging tot ons skool.”
“Hy is heeltemal te jonk van ons af weggeneem en alhoewel ons dalk nooit weet hoekom die dinge gebeur nie, sal ons styf vashou aan die mooi herinneringe wat ons almal van hom het.”
Die skool spreek dan sy medelye uit aan Wafeeq se familie en vriende.
Die skool vra ook voorbidding vir Anthony van der Sandt, ook ‘n matriekleerling en Wafeeq se beste vriend, wat nou ondersteuning en liefde nodig het. Die skool wens hom spoedige herstel toe.



