Ma en twee dogters van Pretoria baklei teen kapers

Deel hierdie storie / Share this story

Foto in berig nie vir sensitiewe lesers nie.

Vier van Ronell Lourens se vingersenings is Saterdagmiddag om ongeveer 16:15 afgesny in ‘n kapingspoging waartydens sy en altwee haar dogters terugbaklei het.

“En daar raak ons ook amper een van SA se statistieke. Maar ons Here die Almagtige het sy hand oor ons bewaar.”

Ronell het hulle angswekkende ervaring in ‘n Facebook-plasing gedeel.

Sy en haar dogters Rohane en Karike was in hul motor in Paul Krugerstraat naby die nasionale dieretuin op pad.

Rohane het bestuur en die motorruit was effens oop. Hulle het by ‘n verkeerslig gestop toe die ondenkbare gebeur.

‘n Verdagte, gewapen met ‘n mes, het sy arm deur die opening gedruk en die mes teen Rohane se keel gehou.

Ronell het sonder om te huiwer haar hand tussen haar dogter se keel en die mes ingedruk, vasgegryp en afwaarts gedruk terwyl sy die verdagte se arm met ‘n vuis begin slaan en geskree het dat hy haar moet laat gaan.

Fotokrediet Ronell Lourens

Kleinsus Karike het vanwaar sy gesit het ook met die vuis begin slaan.

Rohane het die sleutels uit die aansitter gehaal en op die vloer binne-in die voertuig gegooi.

“Terwyl ons almal gil en skreeu, het die aanvaller se makker, wat saam hom was, gesê hulle moet dit los en hardloop.”

“Dis toe dat hy sy mes pluk en al vier my vingers oopsny.”

Steve Biko-staatshospitaal is gelukkig nie ver van waar die beproewing plaasgevind het nie en hulle kon dadelik daarheen gaan vir mediese hulp.

“Lê nou by Steve Bioko en wag vir ‘n operasie om vingers te heg,” het Ronell geskryf.

“Asb. mense wees uiters versigtig. Dit raak nou erg. Verder is ons almal fine. Liewe Heer dankie vir U beskerming.”

“Hulle het met klere deurdrenk met bloed om ongeveer 17:00 by die hospitaal aangekom, en Ronell is eers ‘n dag later net voor 18:00 in ‘n saal geplaas,” sê Ina Olivier, Ronell se niggie.

Ina het bygevoeg, “Hopeloosheid is ‘n aaklige gevoel…môre sal ek beter doen. Ek wil altyd glo in die groter goed van mense.”

Ronell is eers Maandagoggend 01:00 geopereer en sterk reeds tuis aan. Sy gaan die 27ste September vir ‘n opvolgafspraak en sal dan hoor of die operasie ‘n sukses was.

Ronell sê dat die hospitaal en personeel haar baie goed behandel het en dat sy geensins kan kla nie. Die enigste ding wat haper is die wag tyd om gehelp te kan word. Dit het ongeveer twee ure geneem om ‘n leêr oop te maak voordat sy gehelp is.

Fotokrediet Ronell Lourens
Fotokrediet Ronell Lourens

Sy het aan FiND-iT Nuus gesê sy is seker sy sou die mes uit hul aanvaller se hand kon neem, maar beide haar dogters het later aan haar genoem dat die mes aan sy arm vasgedraai was.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel