‘n 32-jarige verdagte is Dinsdag 13 September vir die handel in dwelms deur lede van Kagisho-polisiestasie, Frances Baard se misdaadintelligensie en georganiseerde misdaad, saam met Kimberley se honde-eenheid, gearresteer, aldus sers. Timothy Sam, polisiewoordvoerder vir Galeshewe.
Die lede het inligting opgevolg van moontlike handel in dwelms by ‘n huis in Snake Park, Phuthanang.
Hulle het ‘n deursoekingslasbrief bekom en op die huis toegeslaan.
Tydens die deursoeking het hulle beslag gelê op 6.3 g tik met ‘n geskatte straatwaarde van ongeveer R1 575.00, 10 kg dagga ter waarde van R42 000 en R280 kontant.
Die verdagte sal binnekort in die Galeshewe-landdroshof verskyn op ‘n klagte van handel in dwelms.
Kol. Michelle Ford, die stasiebevelvoerder van Kagisho, het die lede geprys vir hul meedoënlose pogings om dwelms van die strate uit te roei en die spasie vir dwelmhandelaars al minder te maak.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



