Die Bloemfonteinse DBV doen alles in hulle mag om diere in die Jagersfontein-omgewing te red na die mynramp wat die naweek plaasgevind het.
Die wal van ‘n slikdam het meegegee en die modder en slik het mense, huise, paaie en ander infrastruktuur meegevoer.
“Geharde DBV-inspekteurs moet die trane terughou, want ons kan nie nou huil nie,” sê die DBV en verwys dan na ‘n video van ‘n katjie wat in die modder vasgevang is. “Soos ons deur die modder stap, is die katjie voor ons. Hy is nou veilig. Om die omvang van die tragedie vas te vang, het ons na hom toe beweeg en die video geneem. Dit gaan stadig deur die modder.”
Die DBV sê hy het bakkies vol diere opgelaai wat veeartshulp, tydelike huisvesting en aandag nodig het. “Die verwoesting is enorm en die gebrokenheid van mens en dier is tasbaar. Die kleinste kreatuurtjies – krappe, slange en skilpaaie – verdien ook ons onverdiende aandag en tyd.”








Huise en motors is deur die slik meegesleur. Verskeie huise in die Charlesville-woongebied het ineengestort.
Palesa Chubis, die Vrystaatse premier, het in ’n verklaring gesê die provinsiale regering het die rampbestuurspan geaktiveer om die omvang van die ramp te bepaal en ook ontruimingsprosesse uit te voer waar nodig.
“Meer besonderhede oor wat moontlik die voorval veroorsaak het, sal in ‘n latere stadium gedeel word sodra die regering ’n gedetailleerde verslag oor die voorval ontvang het.”



