‘n Bekende gimnastiekklub in die Moot het Saterdagmiddag groot skade gely nadat boosdoeners die park in Moregloed, Pretoria se gras aan die brand gesteek het.
Die vlamme het glo oorgespring na die ry bloekombome waar dit na die buitelug-gimnastiekklub se apparate by die Moregloed-sportsentrum versprei het.

Lede van die gemeenskap het baie vinnig opgetree en ingespring om te help.
Die apparate is weggesleep om dit te probeer red, hoewel van die apparate groot skade gekry het en baie van die matte heeltemal verbrand het.
“Ons grootste skade is ons Euro-trampolien en black top trampolien wat byna heeltemal verwoes is in die brand. Dis ‘n ongelooflike terugslag vir ons as klub. Dit gaan ons ook ‘n baie groot bedrag kos om alles te vervang,” sê Carin Maxwell, eienaar van die klub.

Sy en Robert Maxwell, mede-eienaar van die klub, wil graag die Moregloed-gemeenskap, AfriForum Moot, Pro Shield, Kilnerpark Sekuriteit en die gemeenskapspolisiëring, die klubouers en afrigters bedank vir hul onbaatsugtige hulp om die brand met emmers water te blus.
‘Sonder julle hulp sou ons groter skade gehad het, maar danksy jul vinnige optrede is daar baie apparate gered.
“Elke persoon wat daar betrokke was, word opreg waardeer. Elke persoon wat ‘n emmer gegryp het en vure geblus het,” sê Carin.
Volgens Maxwell het die brandweer eers oopgedaag na die brand reeds geblus was.

Carin sê hul benodig egter elke persoon se hulp om die apparate te vervang sodat die gimnaste hul voorbereiding vir die komende SA-kampioenskappe wat gedurende die Oktober-vakansie plaasvind, kan voortsit.
“So klein as ‘n R100-donasie sal ‘n gedeelte van ‘n apparaat kan help vervang. Maak asb. jul harte oop vir hierdie gimnaste en help ons om weer op die been te kom. Alle oud-gimnaste, ouers van kinders, oupas en oumas, jul almal weet wat gimnastiek beteken in die kinders se lewens en hoe ‘n ongelooflik groot verskil ons aan elke gimnas bied,” sê Carin.
Enigiemand wat ‘n donasie wil maak, kan Carin by 0614164272 kontak.
Foto’s verskaf.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



