Angelina Jolie en Brad Pitt in regsgeding oor Château Miraval

Deel hierdie storie / Share this story

Brad Pitt het Angelina Jolie gedagvaar omdat sy haar deel van Château Miraval verkoop het. Sy het ‘n teengeding teen hom geloods en gesê hy voer ‘n “wraaksugtige oorlog” teen haar.

Dokumente wat deur PEOPLE gesien is beweer Jolie se besigheid, Nouvel, wil meer as R4 biljoen skadevergoeding hê.

PEOPLE sê die dokumente lui: “Hierdie teeneise lê die ware aard van Pitt se gruwelike wangedrag bloot. Om duidelik te wees, is dit Pitt, en nie Jolie, Nouvel of enige van die ander beskuldigdes nie, wat op ‘n vyandige, vernietigende en onwettige wyse opgetree het. Pitt se gedrag het Nouvel ernstige skade berokken.”

Die regsdokument gaan glo voort om te beweer Jolie, wat ses kinders met Brad deel, het maande lank met die Fight Club-akteur onderhandel om haar helfte van die wynmakery aan hom te verkoop, maar sê hy het “‘n elfde-uur-eis gemaak vir beswarende en irrelevante voorwaardes, insluitend ’n bepaling wat ontwerp is om Jolie te verbied om in die openbaar te praat oor die gebeure wat tot die verbrokkeling van hul huwelik gelei het.”

Luidens die liassering was Jolie nie bereid om tot die “stilte”-klousule in te stem nie en het haar aandeel in Oktober 2021 aan Tenute del Mondo, ’n filiaal van die Stoli Group, verkoop.

In sy eie regsgeding het Pitt Jolie in Junie daarvan beskuldig dat sy die reputasie van die wynbesigheid beskadig het deur haar helfte aan ‘n “vreemdeling” te verkoop.

Sy regspan het in die dokumente geskryf die wynmakery het sy passieprojek geword wat gegroei het tot “‘n multimiljoen-dollar wêreldwye besigheid en een van die wêreld se mees hoogaangeskrewe produsente van roséwyn”.

Die akteur het ook beweer Jolie het “niks” tot Miraval se sukses bygedra nie.

Bronne: IOL, Female First

Lees ook: Katie Price vertel sy is in SA verkrag

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel. Adverteer by FiND iT.