Ons vier vandag wêreld-samoesadag. Hier is ‘n lekker resep. Die samoesa se kors kan van filodeeg of pasteideeg gemaak word. Dit word driehoekig om die vulsel gevou en in vlak olie gebraai of in die oond gebak. Verskillende vulsels, selfs iets soet soos sjokolade en klein malvalekkers, kan gebruik word.
SAMOESAS
VULSEL:
1 groot ui, fyn gekap
25 ml kookolie
250 g gemaalde beesvleis
10 ml matige kerriepoeier
5 ml borrie
5 ml sout
25 ml mielieblom
KORS:
500 ml ongesifte koekmeelblom
10 ml bakpoeier
2 ml sout
100 g botter of margarien, by kamertemperatuur
sowat 100 ml koue water
METODE:
Braai die uie in ‘n swaarboomkastrol oor matige hitte in die kookolie tot sag. Voeg die maalvleis by, roer dit met ‘n vurk los en braai dit tot gaar. Voeg die kerriepoeier, borrie en sout by en braai ‘n verdere 5 minute.
Maak die mielieblom met ‘n bietjie koue water tot ‘n pasta aan, roer dit by die vleismengsel en kook tot dik. Laat die vulsel afkoel.
Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter of magarien in die meelmengsel in.
Sny die water met ‘n slaplemmes in – gebuik net genoeg water om ‘n stywe deeg te vorm.
Rol die deeg dun uit op ‘n meelbestrooide deegplank. Druk sirkels, 9 cm in deursnee, met die deksel van ‘n vrugtefles uit.
Skep lepelsvol vulsel op elke sirkel.
Maak die rande van die deegsirkel met koue water klam. Vou die helfte van die deegsirkel oor die vulsel en druk die boonste rand styf op die onderste rand vas.
Braai die samoesas in warm, vlak kookolie tot uitgerys en goudbruin. Dreineer op kombuispapier.
Bron: Wenresepte 2
Plasing; Sue van Wyk / WATERTAND RESEPTE VIR OUD EN JONK



