Naak en vernielde liggaam van vrou – was sy slegs ‘ongelukkig’ ’n slagoffer?

Deel hierdie storie / Share this story

Die naak en vernielde liggaam van ’n 31-jarige vrou is gister deur die polisie aan die buitewyke van Calvinia ontdek.

Luidens berigte is haar skedel en lyf oopgesny en haar ingewande het uitgespoel. Sy het ook gelyk of sy geslaan is. Haar lyk is in ’n vlak graf wat met klippe bedek is, gevind, op ’n heuwel naby Jacarandastraat.

Gizella Opperman, LP vir die DA Noord-Kaap: kiesafdelingshoof vir Hantam-Karoo Hoogland, sê die DA veroordeel die moord ten sterkste.

Opperman sê die vrou is Saterdag nog deur haar familie gesien. “Haar onmenslike dood het haar familie en die plaaslike gemeenskap in skok gelaat.”

Twee verdagtes, onderskeidelik 41- en 21-jaar oud, is in hegtenis geneem.

“Geen mate van geregtigheid sal egter die marteling wat die slagoffer moes verduur het ongedaan maak of haar selfs terugbring nie. Ons wonder wat Bheki Cele, minister van polisie, oor haar dood sou sê – was sy ‘ongelukkig’ om ‘n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld (GBV) in Suid-Afrika, die verkragtingshoofstad van die wêreld, te word,” wou Opperman weet.

Volgens die jongste misdaadstatistieke het die land 9 516 gevalle van verkragting en 6 424 moorde in drie maande ervaar. “Dit is ‘n aanduiding van ‘n land waar misdaad niks met geluk te doen het nie, maar eerder die manifestasie is van ‘n polisieminister, wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die onlangse slagoffer, haar gesin, en die vele ander misdaadslagoffers faal.”

Die DA in die Noord-Kaap beklemtoon die party se beroep op president Cyril Ramaphosa om Bheki Cele, minister van polisie, af te dank.

“Ons doen ook ‘n beroep op die SAPD, ongeag hul kapasiteit en hulpbronbeperkings, om die bewysversameling tot die beste van hulle vermoë te doen, terwyl hulle ook aandring op die spoedige verwerking van die DNS-resultate, ten spyte van die landwye DNS-agterstand van 150 000, om ‘n vinnige skuldigbevinding en ‘n gepaste vonnisoplegging van die moordenaars te verseker,” sê Opperman.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel