Man wat minderjariges vermoor gee dwelms en drank die skuld

Deel hierdie storie / Share this story

’n Man in die Oos-Kaap, wat skuldig bevind is aan moord op twee minderjariges, het drank en dwelms die skuld vir sy dade gegee.

Volgens ‘n verklaring deur die polisie is Nkosiphendule Somhlahlo (27) tot 50 jaar tronkstraf in die Mthatha-hooggeregshof gevonnis.

Hy het glo skuld beken op twee aanklagte van moord en twee aanklagte van poging tot moord, maar geen berou getoon nie.

Somhlahlo is 20 jaar tronkstraf opgelê vir elke aanklag van moord en 10 jaar vir elke aanklag vir poging tot moord.

Die straf vir die pogings tot moord sal samelopend uitgedien word.

Somhlahlo se prokureur het ten tye van die vonnisoplegging gesê Somhlahlo het skool op ‘n vroeër ouderdom verlaat en met dwelms en drank deurmekaar geraak.

Luidens die verklaring het staatsadv. Banele Mhlongo gesê Somhlahlo het niemand behalwe homself om te blameer nie – dit was sy keuse om dwelms te gebruik.

Volgens die prokureur was Somhlahlo ten tye van die moorde onder die invloed van dwelms en was hy nie bewus van die gruwelike dade waartydens hy sy suster se kind asook die kind van ‘n huurder in hul huis vermoor het nie.

Somhlahlo was op 29 Maart saam met sy suster en haar baba by die huis toe hy eers sy suster in haar bobeen en toe in haar rug met ‘n mes gesteek het. Sy het na haar slaapkamer waar haar kind was, probeer vlug. Hy het toe haar driejarige doodgesteek.

Daarna het hy na die huurder se slaapkamer gegaan en die huurder se agtjarige kind doodgesteek. Somhlahlo se broer het hom probeer keer, maar hy het hom ook in die rug gesteek.

Uitgereik deur die NVG: Oos-Kaap afdeling

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel