Man wat altyd almal wou help, pleeg selfdood

Deel hierdie storie / Share this story

“Sommige mense dink iemand wat sy eie lewe neem. is ‘n lafaard wat weghardloop omdat hy iets verkeerd gedoen het. Hulle besef nie depressie is ‘n dodelike siekte nie. Eugene was nie ‘n lafaard nie. Hy was ‘n goeie, omgeemens wat altyd alles vir almal wou doen terwyl hy sy eie seer probeer wegsteek het.”

So sê wyle Eugene Potgieter (36) van Meyerton se ma, Hannelie du Preez, aan Vaalweekblad. Sy worstel saam met haar gesin om die hartverskeurende gebeure van 22 Julie, toe hy gesterf het, te probeer verwerk.

Eugene is op 8 Desember 1985 op Virginia gebore, maar het as kind saam met sy ouers na die Vaaldriehoek verhuis, waar hy aan Laerskool Lumiêr in Vaalpark skoolgegaan het. Met sy groot liefde vir diere het hy sy skooljare aan die Landbouskool Veld en Vlei voltooi en daarna die slaghuisbedryf betree. Hy was tot met sy dood in ‘n senior pos aan Henley Country Butchery verbonde.

“Hy was ‘n mense-mens, altyd reg met ‘n grappie of twee. Hy was lief vir sy mense, sy familie en vriende en was altyd gereed om te help. Hy sou sy laaste vir iemand anders gee, maar het homself min gegun. Sy werk was sy passie en tussen sy diere was hy gelukkig,” sê Hannelize.

Op sy hoewe in Kookrus was hy op sy gelukkigste tussen sy perde, donkies, skape, beeste, bokke, hoenders, eende, ganse en honde. Min mense het egter geweet van die donker gemoedstoestand waarteen hy innerlik geveg het. Depressie kon moontlik veroorsaak gewees het toe hy as kind in 2000 ernstige hoofbeserings by ‘n Sondagskoolkamp opgedoen het. Hy moes daarna ‘n breinoperasie ondergaan.

Op sy laaste dag, 22 Julie, het hy nog vir oulaas ‘n biertjie saam met sy vriende gedrink. Al het niemand anders dit toe reeds besef nie, het hy van hulle afskeid geneem voordat hy die tou vir sy laaste daad op aarde opgetel het.

Die video wat hy agtergelaat het, gee aan sy gesin ‘n kykie in die onhanteerbare psigiese pyn waarmee hy innerlik geworstel het.

“Hy het net gesê hoe vreeslik moeg hy was en dat hy nie meer kon aangaan nie. Hy wou net by Jesus se voete gaan rus,” sê sy ma, wat ondanks dié insig steeds gebroke is.

Eugene word buiten sy ma oorleef deur sy stiefpa Johan, (sy eie pa is ses jaar gelede oorlede), sy vrou Susan, hul twee kleuterdogtertjies, sy broer Ricus, suster Jacqueline en aanstaande swaer, Adolf Potgieter.

Oorspronklik geplaas deur Retha Fitchat Vaalweekblad

Oorspronklik gepubliseer deur Vaalweekblad/Ster en geskryf deur Retha Fitchat.