Kopanong-munisipaliteit binne volgende drie maande weer sonder geld vir salarisse

Deel hierdie storie / Share this story

Die Kopanong- plaaslike munisipaliteit (Trompsburg, Edenburg, Fauresmith, Gariepdam, Philippolis, Reddersburg, Springfontein, Jagersfontein en Bethulie) sal nie genoeg geld beskikbaar hê om binne die volgende drie maande sy werknemers se salarisse te betaal nie, sê die VF Plus Vrystaat.

Ten spyte van dié benarde finansiële posisie het die munisipaliteit die salarisrekening onverantwoordelik vergroot deur nog werknemers aan te stel.

Die munisipaliteit kon in Junie vanjaar ook nie sy werknemers betaal nie en het die Vrystaatse departement van samewerkende regering om ʼn reddingsboei genader.

Kopanong sal waarskynlik van sy voorwaardelike toekennings wat aangewend behoort te word om onder meer infrastruktuur op te gradeer en in stand te hou, moet aanwend om salarisse te betaal.

Die invorderingskoers van munisipale diensterekeninge is tans ʼn skamele 22% en die munisipaliteit faal gereeld daarin om munisipale rekeninge aan inwoners te lewer.

Die munisipaliteit se eie inkomste is daarom minimaal en is daar nie voldoende kontantvloei nie.

Die munisipaliteit se onvermoë om sy finansiële verpligtinge na te kom, dui op die ANC-regering se mislukte model vir plaaslike regering en beleidsrigtings wat kaderontplooiing belangriker as dienslewering ag.

Die salarisrekening van Vrystaatse munisipaliteite is in die algemeen buitensporig hoog terwyl dienslewering gebrekkig is en infrastruktuur verval.

Die Kopanong-munisipaliteit in sy huidige vorm is onvolhoubaar. Dié munisipaliteit is te groot en beslaan te veel dorpe wat effektiewe bestuur en funksionering belemmer.

Die inwoners van Kopanong verdien ʼn verantwoordelike regering wat dienslewering en infrastruktuur prioritiseer. Inwoners verdien beter as die ANC-regering.

*Persverklaring