Wat lyk soos ’n vervalle bus wat op die skoolwerf van Laerskool Sindawonye, langs die R75 in Koega, Oos-Kaap, staan, word in werklikheid as klaskamer gebruik.
Die skool het 79 leerders van graad R tot 6, te veel grade en leerders om behoorlik te onderrig in sy twee klein klaskamers, wat gemaak is van wat blykbaar Vibacrete-mure is.
Die skool het geen elektrisiteit, geen spoeltoilette nie, en is afhanklik van ‘n boorgat vir water.
“Ek gebruik gereeld die bus vir graad 6-leerders sodat hulle in ‘n stil klaskamer kan wees en meer aandag kry,” sê Thobile Nqabeni, Sindawonye-hoof.
Ape is egter in die omgewing te bespeur en sluip dikwels in klaskamers in en ruk niksvermoedende leerders se middagetes uit hul hande.
Petros Majola, van die kinderregte- en geslagsgebaseerde groep Khula Community Development Project, het gesê die situasie in dié skool wys dat die departement van onderwys nog ver van sy doelwitte en standaarde in terme van openbare skole-infrastruktuur is.
Malibongwe Mtima, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van onderwys, het gesê Laerskool Sindawonye is ‘n openbare skool op privaat eiendom.
“Die departement is bewus van daardie skool en lewer wel dienste soos skoliervervoer. Ons is nie verantwoordelik vir die bou van ‘n skool op daardie grond nie, aangesien dit nie ons s’n is nie. Ons kan nie eers ‘n heining regmaak as deel van die ooreenkoms met die eienaar nie.”

Oorspronklik geplaas deur GroundUp.



