‘n Veroordeelde moordenaar is deur die Kaapse hooggeregshof 15 jaar tronk toe gestuur.
Die vonnis hou verband met ‘n steekvoorval op 24 Julie 2019 buite die Wynbergse landdroshof.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder, AO Joseph Swartbooi, het Christopher Hukura vir Chad Petersen doodgesteek na ‘n argument tussen lede van die Americans en Gifted Six Bobs-bendes.
Hukura se prokureur het tydens die verhoor aangevoer dit was selfverdediging.
Waarnemende regter Theo Grobbelaar het nie saamgestem nie en Hukura ook gevonnis vir drie jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die vonnis word samelopend uitgedien, wat beteken dat Hukura effektief 15 jaar agter tralies sal wees.



