AfriForum beskerm steeds belange van Johannesburge skole teen Johannesburg-metro

Deel hierdie storie / Share this story

AfriForum neem kennis van die burgemeester van die Johannesburgse metro se brief, dat die stad dit oorweeg om skole tegemoet te kom rakende die eiendomsbelastingdebakel van skole, universiteite en kolleges binne die metro. Die Stad Johannesburg het verlede week bekendgemaak dat enige heffing bo die algemene 4,85% vir die res van die finansiële jaar by onderriginstellings afgeskryf sal word.

“Alhoewel dit ’n stap in die regte rigting is, is dit onduidelik hoe die proses sal werk, wat die impak op die begroting sal wees en watter maatreëls die munisipaliteit daar sal stel om skole teen invorderingsmeganismes te beskerm. Die partye wat in hierdie aangeleentheid litigeer, kan ’n baie groot rol speel om te verseker dat hierdie proses die resultaat kan hê dat skole die nodige beskerming geniet,” sê Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum.

AfriForum gaan steeds voort met hul litigasieproses teen die metro met betrekking tot die eiendomsbelastingsbeleid en het repliserende stukke verlede week op die metro beteken.

“Totdat daar nie uitsluitsel is oor hoe die metro hierdie situasie wil regstel nie, moet ons steeds met die regsproses voortgaan,” sluit Mostert af.

AfriForum het alreeds ’n tussentydse bevel bekom wat verhoed dat die Stad Johannesburg skuldinvordering op die verhoogde tarief teen enige onderriginstelling mag instel.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel