14-jarige glo deur broer verkrag, swanger

Deel hierdie storie / Share this story

‘n 21-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy glo sy 14-jarige suster verkrag het.

Dit het aan die lig gekom nadat die slagoffer op 23 Augustus haar ma vertel het dat sy ongeveer ses maande swanger is en dat dit haar broer se kind is.

Kaptein Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het sy kommer oor die voorval uitgespreek.

Volgens Thakeng was die slagoffer op 10 Januarie 2020 alleen in Winburg toe haar broer by die huis kom en haar in die slaapkamer kry.

“Die verdagte het die slaapkamer binnegegaan en albei haar hande agter haar met sy skoenveters vasgebind en haar verkrag.”

Die voorval is by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld waarna ’n saak van verkragting aanhangig gemaak en na die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) verwys is.

Die verdagte is deur speursersant Mpho Kotsamere van die FCS-eenheid in hegtenis geneem en sal binnekort in die Winburg-landdroshof verskyn.