‘n Veroordeelde dwelmsmokkelaar is tot vyf jaar effektiewe tronkstraf gevonnis vir die besit van dwelms van ongeveer 1 miljoen rand.
Typhenne Ewyne Jantjies is Dinsdag gevonnis.
Hy is die neef van die bendebaas, William “Red” Stevens wat in Februarie laasjaar doodgeskiet is.
Volgens Zinzi Hani, ‘n woordvoerder van die Valke, is dit deel van die polisie se poging om die “plaag van dwelmsmokkelaars” in sy spore te stuit.
Jantjies is in 2016 gearresteer nadat die polisie se taktiese reaksie-eenheid in Khayelitsha inligting gekry het oor ‘n voertuig wat dwelms vervoer.
Jantjies het glo op die betrokke dag wat die polisie op sy spoor was, probeer wegjaag.
Die polisie het daarin geslaag om hom te vang en 32 000 Mandrax-tablette in die voertuig gekry.



