Die Thohoyandou-hooggeregshof in Limpopo het die 29-jarige Ndivhuwo Tshisikhawe tot agt lewenslange vonnisse en 100 jaar tronkstraf vir verekeie aanklagtes gevonnis.
Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die hof het gehoor Tshisikhawe het tussen Maart 2015 en Julie 2017 verskeie misdade in die areas van Lwamondo, Duthuni, Tshisaulu en Mvelaphanda gepleeg.
Hy is op twee aanklagte van huisbraak met die doel om te verkrag, drie aanklagte van roof, drie aanklagte van ontvoering en agt aanklagte van verkragting, onder andere van ‘n 13-jarige meisie, skuldig bevind
“Hy het die slagoffers se wonings binnegegaan, hulle met ‘n mes gedreig en selfone, bankkaarte en in totaal R1 400 kontant gesteel.”
Na sy inhegtenisname het Tshisikhawe uit aanhouding ontsnap en is drie weke later weer in hegtenis geneem.
Hy het onskuldig gepleit op die aanklagte en vir die hof gesê dat hy “niks verder het om te sê nie”.



