‘n Bejaarde man is in die Greytown-streekshof tot lewenslank en 17 jaar tronkstraf gevonnis na hy skuldig bevind is op aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en ontvoering.
Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die man het sy slagoffer se familie geken omdat hulle dieselfde kerk bygewoon het.
“Die slagoffer was 17 jaar oud toe dit gebeur het,” sê Ramkisson-Kara. “Die misdade het tussen Februarie en Julie 2019 plaasgevind.”
Voor die misdade plaasgevind het, het die man die slagoffer se familie gevra om vir hom ‘n bruid te reël.
Die slagoffer se tannie het haar as sy bruid gekies en na vele oorreding van haar familie, het die slagoffer ingestem om met hom te trou. “Toe sy hom egter ontmoet en sy ouderdom besef, het sy van plan verander. Haar familie en die man het egter geweier om haar keuse te aanvaar.”
Die man het glo met die meisie se familie gereël om haar na ‘n kamer in Greytown te neem, waar hy probeer het om haar te verkrag. Sy het terugbaklei en hy het haar na ‘n bebosde area geneem waar hy weer, sonder sukses, probeer het om haar te verkrag.
Toe die slagoffer volgens Ramkisson-Kara haar familie van die voorvalle vertel het, is dit ignoreer en troureëlings het voortgegaan.
Die slagoffer is ontvoer en na die bejaarde man se huis in Ntembisweni geneem waar hy haar vir 10 dae gevange gehou het en haar aanhoudend verkrag het. Toe maatskaplike werkers inligting ontvang het oor ‘n meisie wat aanhoudend huil, is sy eindelik gered. Sy was aan ‘n metaaltafel vasgeboei.
In die hof het die man die tradisie ukuthwala as verskoning gebruik vir wat hy gedoen het.
Ukuthwala is ‘n vorm van ontvoering wat behels dat ‘n meisie of ‘n jong vrou deur ‘n man en sy vriende ontvoer word met die doel om die meisie of jong vrou se familie te dwing om tot ‘n huwelik in te stem.
Die hof het hom ten spyte daarvan skuldig bevind.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



