Wes-Kaapse polisie arresteer 2 885 verdagtes

Deel hierdie storie / Share this story

Volgens kol. André Traut, polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het samewerking tussen verskeie polisie-eenhede groot sukses tydens die naweek se operasies tot gevolg gehad.

“Gisteroggend het lede van die blitspatrollie gereageer op inligting oor ‘n gesteelde vragmotorhouer, gevul met sjokoladestafies, wat by ‘n adres in Kensington afgelaai word. Met die lede se aankoms op die toneel is twee verdagtes, onderskeidelik 54 en 60 jaar oud, gearresteer vir die besit van die gesteelde vrag met ‘n waarde van ongeveer R1,5 miljoen, sowel as vermoedelik gesteelde huisware.”

“In ‘n onverwante voorval het die blitspatrollie ‘n klagte van ‘n kaping van ‘n vragmotor wat in die Saxonburg- industriële gebied in Kuilsrivier plaasgevind het, ondersoek. Hulle is na ‘n adres in Lingelethu-Wes waar drie verdagtes, onderskeidelik 37, 38 en 40 jaar oud, gearresteer is vir die besit van die gekaapte vragmotor en bokse vleis, tot die waarde van ongeveer R1,5 miljoen.”

“In ‘n poging om bendegeweld hok te slaan, het lede van die teenbende-eenheid in Houtbaai dienste verrig. Inligting het hulle gelei het na ‘n woning in Zalmanderstraat waar ‘n 50 jaar oue verdagte gearresteer is vir die besit van’n ongelisensieerde vuurwapen sonder ‘n reeksnommer, met 15 rondtes ammunisie.”

Fotokrediet SAPD

Die Wes-Kaap het verder met “Operation Restore” gedurende die naweek 2 885 verdagtes gearresteer vir verskeie misdade wat van moord tot die besit van dwelms insluit. Tydens hierdie arrestasies is daar beslag gelê op 33 vuurwapens, 503 rondtes ammunisie, 229 gevaarlike wapens, 9 412 liters alkohol, 4 024 Mandrax-tablette en ander dwelms met ‘n gewig van 83 kg.

Verdagtes sal vandag in die landdroshowe van Kaapstad, Kuilsrivier en Wynberg verskyn.

“In wetstoepassingsterme is hierdie ‘n aansienlike hou vir kriminaliteit, en ons is verheug oor ons vordering om bose verskynsels van misdaad in hierdie provinsie uit te roei.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel