Vyf kinders is oorlede en vier beseer in ‘n ongeluk waar ‘n vragmotor deur die heining van ‘n laerskool gebars het.
Die ongeluk het om ongeveer 14:00 by Vyfhoek Laerskool gebeur.
Nooddienste, polisie en verkeer het hulle na die toneel, ongeveer 10km op die N12 buite Potchefstroom, gehaas.
Volgens ER24EMS se Facebook-blad het paramedici drie kinders onder en ander rondom die vragmotor gevind. Die kinders is tussen die ouderdomme van 7 en 11 jaar.
Vier van die kinders was reeds oorlede. Drie ander kinders was in kritieke kondisie, terwyl nog twee ernstig beseer was. Nog ‘n kind het later gesterf.
Die drie kinders wat ernstig beseer is, is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
Na bewering was die vragmotor op pad na Johannesburg toe ‘n band bars, die bestuurder beheer verloor en deur die heining gebars het.
Die bestuurder van die vragmotor is glo nie beseer nie.
Die polisie ondersoek die saak.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



