‘n Kinderverkragter (41) van die Oos-Kaap sal nou vir die res van sy lewe agter tralies wees na hy skuldig bevind is aan 15 klagte van onder andere verkragting, ontvoering en aanranding.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê al Siyabulela Qunta se slagoffers was tussen die ouderdomme van vyf en sewe jaar oud.
Tussen 2012 en 2018 het Qunta verskeie kinders in New Brighton en Kwazakele na afgesonderde areas gelok en hulle verkrag. Hy is in April 2018 in hegtenis geneem toe hy ‘n sewejarige meisie probeer ontvoer het. Volgens kol. Naidu het Qunta haar gegryp en toe haar sibbe haar ouers van die voorval gaan vertel, is hy deur die gemeenskap in hegtenis geneem.
Hy is ook glo erg aangerand voor die gemeenskap hom aan die polisie oorhandig het.
Kol. Naidu sê ook Qunta se DNA het hom aan vyf ander verkragtingsake gekoppel.
Hy is op 14 aanklagte van verkragting, ontvoering en aanranding skuldig bevind. Hy is vyf lewenslange vonnisse opgelê vir verkragting, en 39 jaar vir ontvoering en aanranding.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



