Olifantshoek-plaasmoord moet geprioritiseer word, sê DA

Deel hierdie storie / Share this story

Die moord op die plaas naby Olifantshoek in die Noord-Kaap moet deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geprioritiseer word op dieselfde manier as wat die Krugersdorpse bendeverkragting hanteer word, sê Willie Aucamp, LP, kiesafdelingshoof van die Kalahari.

Andrew Olivier (63) was slegs in sy kakiehemp en werksbroek geklee en met draad aan ‘n boom vasgemaak nadat hy sy werkers gesmeek het om hom nie te vermoor nie.

Sy hande was vasgebind agter sy rug. Sy voete was ook vasgebind en ‘n verband is gebruik om hom te muilband.

Sy vrou, Bets (65) se liggaam is later in die plaashuis aangetref.

“Nadat ek Andrew en sy gesin gister ontmoet het om die Demokratiese Allianse se innige simpatie persoonlik oor te dra, was ek geskok oor die brutaliteit van die diep wonde wat aan sy gewrigte en enkels toegedien is, en die trauma wat hy en sy hele gesin opgedoen het weens die verlies van sy vrou.

Die aanval op die Oliviers het weereens die kwesbaarheid van boere uitgelig, asook die tekort aan hulpbronne van die polisie en die kritieke behoefte, soos deurgaans deur die DA geopper is, om landelike veiligheidseenhede aan die gang te kry om landelike gemeenskappe te beskerm.”

Volgens Aucamp het die Oliviers en die groter boeregemeenskap nou die gemoedsrus nodig dat hierdie misdaad as ‘n prioriteitsmisdaad gehanteer sal word, nie net in woorde nie, maar in die praktyk, en dat die oortreders spoedig aangekla sal word, anders as in die drievoudige Brand-moordsaak op Hartswater, waar DNS-uitslae reeds ‘n jaar en ‘n half uitstaande is.

Hy sê die DA sal die saak noukeurig dophou deur hulle hof-moniteringseenheid, in ‘n poging om die polisie aanspreeklik te hou en om hulle in staat te stel om tot die beste van hulle vermoë te verseker dat die ondersoek en hofverrigtinge glad en sonder vertragings verloop, sodat geregtigheid bedien kan word.

“Boerdery is die tweede grootste bydraer tot indiensneming in die Noord-Kaap. ’n Aanval op boere is dus ’n aanval op werksgeleenthede sowel as ’n aanval op voedselsekerheid en dus ’n aanval op ons almal,” het Aucamp gesê.

Die DA eis dat die SAPD plaasaanvalle met dieselfde erns as ander geweldsmisdade hanteer.

 Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel