Volgens lt. kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng het die polisie maksimum hulpbronne beskikbaar gestel om die skuldiges op te spoor van ‘n skietvoorval in Midrand waarin ‘n 9-jarige seun aan sy beserings gesterf het.
Parktown polisie is opsoek na twee verdagtes nadat daar om ongeveer 15:00 op ‘n vrou van 41-jaar oud en haar twee kinders in Midrand geskiet is.
Beide die ma en haar seun wat skietwonde opgedoen het is na ‘n mediese fasiliteit geneem vir behandeling. Die seun het gesterf terwyl sy ma in ‘n ernstige kondisie is.
Die 13-jarige dogter wat ook in die voertuig was, het geen beserings opgedoen nie.
Na bewering het die ma haar twee kinders na skool opgetel, waarna hulle deur die twee verdagtes geskiet is. Die twee verdagtes het in ‘n motor wat naby geparkeer was gespring en weggejaag.
Die motief vir die skietvoorval is onbekend.
‘n Dossier is geopen vir moord en poging tot moord.
Die polisie versoek enige persoon wat inligting het aangaande die voorval wat met die ondersoek kan help om die verdagtes aan te keer, om hul naaste polisiestasie of Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



