Twee kinders, Kotsema Ramaru (9) en Kubu Mashilo (12), het Saterdag om ongeveer 10:00 in die Seshego-dam naby Zone 4 verdrink, volgens lt.kol Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo.
Na bewering het die seuns saam met vriende geswem. Hulle het met toestelle wat van polistireen gemaak is op die rivier gedryf en dit probeer oorsteek, ‘n gewilde aktiwiteit in die omgewing.
“Die ongelukkige insident het gebeur toe hulle “boot’ in die middel van die dam omgeslaan het en beide seuns verdrink het.”
Die polisie se soek- en reddingseenheid is na die toneel ontbied. Hulle kon een van die seuns se liggame na die oppervlak bring. ‘n Soektog na die tweede liggaam sou Sondag hervat word.
Genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris, maan ouers om na hulle kinders om te sien.
“Ouers word gewaarsku om seker te maak dat hul kinders nie sonder toesig aan swemaktiwiteite deelneem nie, veral in die dam se omgewing waar reeds verskeie verdrinkings in die verlede gerapporteer was.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



