Lede van georganiseerde misdaad en die narkotiese eenheid het ‘n operasie op ‘n perseel in Ngudiwini, in die Sundumbili-polisiëringsarea, KwaZulu-Natal, uitgevoer.
Volgens brig. Jay Naicker het die polisie opgetree nadat hulle ‘n lasbrief bekom het vir die vermoede van dwelmbedrywighede en die moontlike bedryf van ‘n laboratorium op die perseel..
Die verdagtes wat na bewering verantwoordelik is vir die vervaardiging van dwelms en tablette, vermoedelik Mandrax, het hul masjiene net so aangelos terwyl hulle inderhaas van die laboratorium af weggevlug het.

‘n Groot hoeveelheid rou materiaal wat in dwelmvervaardiging gebruik word, verpakkingsmateriaal, twee elektriese slypmasjiene, ‘n droogoond, ‘n elektriese saampersmasjien, ‘n vragmotor met ‘n geheime kompartement sowel as ander toerusting ter waarde van miljoene rande is tydens die operasie gekonfiskeer.

Lt.genl. Mkwazani, die provinsiale kommissaris van KwaZulu-Natal sê: “Ons is tevrede met hierdie deurbraak omdat dit beteken dat ‘n groot hoeveelheid dwelms van ons strate verwyder is. Die ondersoek sal aan die Valke oorhandig word en ons hoop dat die verdagtes tot boek gebring sal word,”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



