Kyk jy ook oorgeklankte Turkse sepies? – praat saam

Deel hierdie storie / Share this story

Turkse oorgeklankte reekse met sterk, skoon storielyne het die sepiewêreld in Suid-Afrika met ‘n spoed betree, of dalk kan die woord “oorneem” selfs een van die dae ter sprake kom.

Skurke, skoonhede in nood en helde is volop in elke episode wat met spanning, intrige, humor en liefde gevul is.

Hierdie oorklankings dra by as ‘n inkomste vir Suid-Afrikaanse akteurs en aktrises wie se stemme in die reekse gebruik word.

Op Facebook spog Carol Fransman met ‘n blad genaamd Turkse Sepies op eExtra, en moet die emosionele, meegevoerde plasings van kykers gereeld gemonitor, aangemaan of selfs verwyder word.

Vir die Suid-Afrikaanse kykers wat hierdie sepies slaafs volg, is dit ‘n wipplankryery tussen die eMedia-kanale waarop hierdie reekse, wat aanvanklik van DSTV afgehaal is, en nou weer vir slegs ‘n onbeperkte tyd uitgesaai sal word, te sien is. Dit is egter nog nie duidelik of hierdie kanale permanent sal terugkeer nie.

Met die eerste aankondiging dat hierdie kanale van DSTV verwyder word, het ‘n magdom kykers hulle na OpenView-dekodeerders en eVOD gewend, en het hulle mekaar op dié Facebook-blad met raad en daad bygestaan oor pryse, die beste toestelle en die installering daarvan.

Gereelde kykers Pieter Erasmus en sy vrou Fransie het reeds op 4 Julie in Turkye aangeland op ‘n uitgebreide vakansie wat hulle gretig met die Facebook-groep deur middel van foto’s en video’s deel. Dorpies soos Izmir (Smirna), Uludag, Ankara, Cappadocia met die lugbalonne, tradisionele eetgoed, egte Turkse koffie, sade wat gereeld in die sepies genuttig word, ensovoorts, is deel van hul plasings.

Is jy ‘n kyker van hierdie oorgeklankte Turkse sepies? Vertel watter sepie en akteur of aktrise jou gunsteling is.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel