Volgens Jannie Kasselman van Kasselman-sekuriteit op Standerton het onbekende verdagtes in ‘n silwerkleurige Ford Ranger-bakkie, met wat na dromme agterop lyk, op 1 Augustus na die MTN selfoon-toring tussen Standerton en Morgenzon gegaan. Hulle het die perseel probeer oopbreek om die diesel wat vir die kragopwekker op die perseel bedoel is, te steel.
Hulle kon egter nie daarin slaag om die diesel te steel nie, en het gevlug voordat sekuriteitspersoneel op die toneel aangekom het.
Later die aand het die verdagtes na die toneel teruggekeer en probeer om eerder die batterye wat in die toring gebruik word te steel. Hierdie poging was ook onsuksesvol. Sekuriteit het weereens die verdagtes net gemis, maar die een verdagte is deur ‘n kamera in die batteryboks afgeneem.
Op 4 Augustus is dieselfde verdagte voertuig met twee insittendes op dieselfde pad deur Kasselman-sekuriteit opgemerk wat van Morgenzon af op pad was na Standerton. Hulle het die voertuig gevolg tot by die SASOL-vulstasie op Standerton, waar die verdagtes in samewerking met die polisie aangekeer is. Daar is beslag gelê op die voertuig wat ten tyde van die misdaad gebruik is.
‘n Saak van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



