Oud-Springbok na bewering in Mbombela aangerand

Deel hierdie storie / Share this story

Saterdagaand se rugby het minder vrolik geëindig vir ‘n oud-Springbok wat Mbombela besoek het vir die wedstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland.

Grant Esterhuizen beweer hy is die aand deur twee mans buite Mustangs – The Dancing Place – aangerand.

“Op soek na twee nie so saggeaarde manne wat Saterdagaand die tyd geneem het om my van die kant en agter af te slaan. Hierdie individue behoort aan ‘n motorfietsklub. In Nelspruit. Albei het motorfietsklub ‘cuts’ aangehad. Help my asseblief om hierdie misdadigers te vind en te voorkom dat dit in die toekoms met enigiemand anders gebeur,” lees ‘n plasing op Esterhuizen se Facebook-blad.

Hy beweer die voorval het op Mustangs se perseel plaasgevind, maar Jaco Swart, die eienaar, het beklemtoon dat dit buite gebeur het.

Die omstandighede van die gebeurtenis is nog onduidelik.

Geen saak is nog by die polisie geopen nie, maar Esterhuizen het gesê hy beoog beslis om dit te doen.

Esterhuizen het Woensdagaand ‘n plasing op sy Facebook-blad gemaak en gesê: “Dankie vir soveel ondersteuning en omgee! 99.9% seker ek het die skuldiges wat verantwoordelik is om my seer te maak en wie weet nog hoeveel ander. Sal op Jacaranda-oggendprogram wees. Seënwense dankie.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.