‘n Man vroeg in sy 40’s is Woensdagoggend dood in ‘n motor binne-in ‘n swembad in Westville in Durban gevind.
Derrick Banks, woordvoerder vir Redline Response-nooddienste, sê hulle is Woensdagoggend na die toneel by ‘n privaatwoning ontbied waar ‘n motor in ‘n swembad beland het.
“Toe was dit nog nie duidelik of daar ‘n persoon in die motor was nie, want niemand het die ongeluk gesien gebeur nie,” sê hy.
Volgens Banks het Redline saam met die polisie gewerk om die motor uit die swembad te kry.
“Een persoon, die bestuurder van die motor, is in die motor gekry. Hy was reeds oorlede en is op die toneel dood verklaar.”
Banks sê dis nog onduidelik hoe die motor in die swembad beland het.
Die familie van die oorledene sê hy het die aand voor die ongeluk die huis om 20:00 verlaat en nooit teruggekeer nie.
Die voorval word ondersoek.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



